Tuesday, December 16, 2014

TOERJOERNAAL      RUSLAND
FANIE EN BARBARA SCHOONEES
JUNIE 2014
Hoofstuk 2       Geografie en Geskiedenis van Rusland

INLEIDING

Dit is vir my altyd belangrik om iets te wete te kom van ’n land wat ons besoek.  Rusland met die mistiek daarom, het die belangstelling intens geprikkel.

Binne die term “Rusland” bestaan daar deur die geskiedenis deurgaans ’n atmosfeer van misterie.  Dit is nie net dat die land in die afgelope eeu bykans deurgaans agter ’n “ystergordyn” was nie, maar ook die geïsoleerdheid en uitgestrektheid van die land en die feit dat mens niks van Rusland in die skool geleer het nie.

 Gedurende die toer is daar op 2 aande videos oor die TV’s in die kajuite uitgesaai met titel:  “History of the Tsars”.  Dit was aangrypend, maar die feite het so vinnig verbygerol dat mens nie mooi kon byhou nie.  Terug in die land het ek na hierdie video’s gesoek.  Ons dogter, Salome, het dit toe op die internet vir my raakgeloop.

Verder was ek aangewese op die internet waar mens ongelooflik baie inligting tot in fyn besonderhede deur tallose internetskakels (“hyperlinks”) kry.  In enkele boeke het ek ook inligting bekom.

Dit was nogal nie so maklik om al hierdie inligting te sinkroniseer nie.  Mens kan nie anders as om af te lei dat elke stukkie geskiedenis ook maar 2 kante het.  Dit hang net af wie die geskiedenis skryf!  Soms is die geskiedenis ook so vêrgesog dat mens nie anders kan om mistiek of selfs mites daarin te lees nie.  Soms word die mites en legendes in die geskiedenis uitgewys, maar andere lyk darem baie na feëverhale.

Deur alles heen kan ek nie daarop aanspraak maak dat my feite altyd korrek is nie.  Ek is oop vir oortuiging en regwysinge.  Nogtans kan ek nie anders as om aan te beveel om hierdie hoofstuk deur te lees nie.  Dit gee ’n prentjie van die sinistere geskiedenis van hierdie land van mistiek en misterie (dalk histerie!).

GEOGRAFIE VAN RUSLAND

Rusland is ’n land van groot riviere, uitgestrekte vlaktes en ondeurdringbare bosse.  Die klimaat wissel van ysige koue in die noorde waar dit vir ongeveer 5 maande in die winter toegesneeu is, tot skroeiende hitte in woestynstreke in die suide-ooste.  Daartussen mag daar heerlike weer en uitgestrekte grasvelde wees.  Ons wat in die begin van Junie daar was, het heerlike somerweer ondervind.

Die ganse land sovêr ons dit gesien het, is bebos.  Die bome is hoofsaaklik blykbaar jonk en die stamme dun.  Dit het my opgeval dat ons omtrent nêrens ou dik bome gesien het nie.

Dit het ons ook opgeval dat daar te midde van grasvelde daar geen beste op die veld te sien is nie.  Ek het hoeveel maal vir Thys gesê dat ons hier darem ’n lekker beesboerdery aan die gang sal kry.  Dan vra ons net onsself die vraag af wat ons in die winter in die sneeu met die diere gaan maak.  Dan sien ons maar, soos die Russe, van die plan af.

Rusland of dan wel die deel waardeur ons getoer het, is baie plat.  Moskou is 162 meter bo seespieël en is ongeveer 900 kilometer van St Petersburg af, nagenoeg 1000 kilometer van die Swart See af.

Daar loop ’n sneltrein tussen Moskou en St Petersburg wat die afstand in 3 ure aflê.  Dit behoort dan teen ongeveer 300 km/h te loop.  Daar is ook gewone treine wat oornag die afstand aflê.  As mens die tydsverloop op die lughawens en dit reistyd na die lughawens in ag neem, is dit by verre die moeite werd om per trein te reis wat jou van middestad tot middestad neem.

Daar is talle groot riviere en baie water in die land.  Talle kanale is ook tussen rivier gegrawe. Die grootste riviere waarop ons gevaar het, is die:  Moskou-, Volga-, Sheksna-, Svir- en Neva-riviere.  Die eerste 3 loop suid na die Kaspiese See (en die Swart See), en die ander 2 loop noord-wes na die Baltiese See.  Die ander 2 groot riviere wat ook suidwaarts na die Swart See loop, is die Dnieper- en die Don-rivier.

Die grootste rivier is die Volga.  Dit het hoofsaaklik twee takke:  Die een vanuit die weste het sy oorsprong uit die vlaktes noord-wes van Moskou.  Die ander tak (en veel groter tak) kom uit die noorde en ook uit die suidelike dele van die Urals-Gebergte wat die grens met Siberië is en waarskynlik ook die grens tussen die kontinente, Europa en Asië.  Hierdie berge is sowat 1350 km oos van Moskou en 1580 km oos van St Petersburg.  Dit gee mens ’n idee van die geweldige opvanggebied van hierdie rivier.

Die Moskou-rivier loop in die Volga-rivier en die Volga loop hoofsaaklik en van nature in die Kaspiese See.  Die Kaspiese See is 29 meter onder seespieël, maar die soutgehalte is nie abnormaal hoog nie.

Die Volga-rivier word by Volgagrad, by koördinaat   N48° 30.370   E44° 42.100, op hoogte van -9 meter (onder seespieël) per kanaal verbind met die Don-rivier wat in die Swart See uitmond by N48° 37.469   E43° 32.080.  Die ontmoetingspunt tussen die kanaal en die rivier is op hoogte 76 meter bo seespieël.  Die afstand reguit deur vanaf die Volga na die Don is 76 km.  Die afstand tussen Volgagrad en die Swart See is ongeveer 424 km.

Die kanaal loop eers vir 13 km suid en dan vir nog ongeveer 10 km wes waar dit dan op hoogte van 76 meter bo seespieël in die bolope van ’n sytak van die Don-rivier inloop.  Talle sluise beheer ook hier die hoogte van die bote om oor die heuwel te kom.

Dit is nie aan my bekend hoe oud hierdie kanaal is nie, maar Tsaar Peter the Great (1725) het dit reeds in die 17de eeu bedink en waarskynlik geïmplementeer om see-toegang tot die Swart See te kry.

Slaan gerus hierdie koördinate op Google Earth na om hierdie interessante stelsel te besigtig.  Daar is ook talle foto’s beskikbaar.  Jy sal voel of jy self daar was!

Geniet dit!

VROEË GESKIEDENIS VAN RUSLAND.       

So uiteenlopend as wat die geografie van die land is, so bestaan die bevolking deur die eeue uit ’n verskeidenheid van volkere wat woon in die bosse en woude, vlaktes, berge en woestyne van hierdie meestal waterryke streek.  Elke dorpie en gemeenskap het maar  probeer om ’n gelukkige bestaan te voer.

Die landsgrense het gegroei en gekrimp ooreenkomstig verowerings en verliese in oorloë.   

Weens die uitgestrektheid  van die land weet ek ook nie of die verskillende volke altyd van die mekaar geweet het, wat hul omstandighede is, en wie hulle regeer nie.

Die Rurik-Dinastie    862 – 1598

Die Rurik-familie is een van die oudste en grootste koninklike families in die Europese geskiedenis.  Hulle heers van 862nC – 1598nC

Die eerste Monarg van Rusland wat ek kon vind, is Rurik Novgorod wat regeer vanaf 862 – 879.  Van hom af, tel ek 112 monarge of konings of tsaars tot 1917.  In die tyd van die USSR sedert 1917, tel ek 13 amptelike leiers van die USSR, van wie sommige ook president genoem is.

Die vroeëre leiers word monarge genoem.  Moontlik is hulle as konings beskou.  Hulle afstammelinge het hulle opgevolg, of hulle het self hul opvolgers aangewys.

Onder die bekende name van die leiers in die vroegste eeue, is:  Igor 879 – 945,  Vladimir 978 – 1015,  Rurik Novgorod,  Igor,  Yaroslav the Wise 1019 – 1054.  Yaroslav se 4 seuns het elk ook in die 11de eeu as monarge regeer.

Die legende lui dat Prins Yaroslav in die jaar 1010 in die Volga afgevaar het.  Hy merk toe op dat daar by die sameloop van die Volga en die Kotorsol-rivier, ’n stam woon wat die skeepsvaart op die rivier met rooftogte bedreig.  Hy sê die stam toe die stryd aan.

Die stam laat toe hul natuurlike beskermer, ’n beer, op die aanvaller los.  Yaroslav durf die beer met ’n byl aan en kap die byl in sy kop.  Die stam het hulself toe vrywillig aan die prins onderwerp en Yaroslav vestig toe daar die christen-gefundeerde dorp wat later die stad, Yaroslavl, word.

Die land is van die vroeë geskiedenis af ’n redelik geslote land.  Die ondeurdringbaarheid van die bosse en uiterste weer het dit blykbaar nie vir mense nie baie aantreklik gemaak om hier te woon nie.

Die Vikings

In die tweede helfte van die 9de eeu begin die Vikings om ’n kortpad te vind na Konstantinopel en die Arabiese Skiereiland.  Hulle gebruik nl. die 3 groot riviere van Rusland, nl. die Dnieper-, Don- en Volga-riviere om deur die gebied te vaar.

Die grootste en bekendste stad in daardie tyd was Kiev aan die Dnieper-rivier.  Die Vikings kom dus in direkte kontak en konfrontasie met die Russe.

Prins Vlademir van Kiev

In die 10de eeu kom daar prins Vladimir in Kiev aan bewind. 

Vladimir bestuur die bevolking onder 3 uiteenlopende godsdienste.  Hy moet ’n besluit maak tussen Judaïsme, Mohammedanisme en die Christen-Katolieke.  In Konstantinopel kom hy in aanraking met die Christen-Ortodokse Kerk.  Hy kom daar tot bekering in die christendom.  Hy beskou homself as God se agent op aarde.  Hy beveel sy volgelinge om hul tot die christendom te laat doop, of anders sal sy wraak hulle tref.

Ná Vladimir se dood neem sy 2 seuns die leisels oor.  Die 2 broers tree ongelukkig in kompetisie en in stryd met mekaar.  Die 2de seun vermoor sy broer terwyl hy in die kerkgebou besig is om te bid.

Die Mongole               Tartare           “Golden Hordes”

In die suidelike dele wat meer aantreklik was, het veglustige perderuiters uit Sentraal-Asië  (Mongolië) voortdurend rooftogte hier uitgevoer.  Die Mongoolse magte word versterk deur soldate uit Turkye.  Hierdie magte word genoem: “The Golden Hordes” of te wel die “Tartare”.

Hulle val die land in 1237 in met ’n leër van tot 100 000 man op perde.  Hulle het die oorlogskuns vanaf ’n perd vervolmaak.  Hulle moor dorpe en stede se bewoners uit.  Binne 3 jaar oorheers hulle omtrent die hele Rusland.  In die loop van 1000 jaar in die geskiedenis kon alleenlik die Mongole dit regkry.

Die bevaarbaarheid van die riviere het die land vir hulle toeganklik gemaak.  In die eeue voordat motoriese aandrywing beskikbaar was, is bote getrek deur mense, die sogenaamde “peasants”, wat soos diere op die oewer ingespan is en hulle het dan die bote van die kant van die rivier getrek!  Die “peasants” was ’n werkersklas-mens wat vir die boere hande-arbeid gedoen het.


“Peasants” trek ’n boot op ’n rivier

Novgorod, suid van huidige St Petersburg, en Kiev, tans hoofstad van die Ukraine, was die 2 groot stede vanuit die 10de eeu.  Hierdie stede het ontstaan uit handel van die Viking-invallers, die “Varangians”.  Novgorod was onder die invloed van die Pole en die Lithuanians en het assulks Rooms-Katolieke geword.  Kiev in die suide het sterk handelsbande met Konstantinopel gehad en as sodanig onder die Grieks-Ortodokse kerk gekom.  Die streke is vandag nog grotendeels kerklik so verdeel.

Die land was ook nog nie saamgestel soos dit vandag is nie.  Gaandeweg is dele deur oorloë by die land gevoeg en ook soms weer verloor.  Op dié manier het dit gebeur dat die land meer as een leier gehad het.  Dit kon ook gebeur as gevolg van die uitgestrektheid van die gebied en die stadige kommunikasie tussen gemeenskappe.

In 1240 verower die Tartare vir Kiev.  Die boodskap word aan die inwoner oorgedra, dat, as hulle oorgee, sal hulle vergewe word.  As hulle hul verset, sal hulle wreed gestraf word.  Kiev besluit om weerstand te bied en die stad word met die grond gelykgemaak.  So begin die Mongoolse oorheersing van Rusland wat vir 2½eeue duur.

Die Mongole het nie daarin belang gestel om die land te regeer of om daar te bly nie, maar net om belasting deur die owerhede van die land te verkry.

Die Tartare trek verder deur die land.  Al die stede en dorpe was nie so dwaas om die magtige Mongole en met hul oorwegend Turkse soldate te weerstaan nie.

’n Sekere prins onderwerp hom aan die Tartare.  Hy stap onder hulle in en begin om hul perde kos te gee.  Hulle aanvaar hom.  Hy betaal hulle ’n bedrag geld om ’n prins te mag bly en as regerende prins onderdanig aan die Mongole oor sy volk te heers.  Hy tree as hul agent op om die belasting vir die Mongole in te vorder.  Hy word genoem die “Grand Prince of Valdemar”.

Die Tartare verdeel die land in twee, om die Russe se mag te breek sodat hulle nie in opstand kan kom nie.

Die Tartare onderwerp die land aan die heerskappy van die Khan van Mongolië.  Hulle onderwerp die bevolking aan jaarlikse belasting.  Hierdie oorheersing duur vir 2½ eeue.  Die Mongole stel nie daarin belang om die land te regeer nie.  Hulle wil net deel van die oes hê in die vorm van belasting.

Daar is een stad waar die leiers daarin slaag om die goeie gesindheid van die Mongole te verkry en dit is Moskou.  Die stad is maar nagenoeg 100 jaar oud.

Dit is nie vir my duidelik of die “Grand Prince of Valdemar” dalk van Moskou was nie.

Moskou groei egter in hierdie tyd in mense-getalle en in ekonomie.  Die bewoners van Moskou word die “Muscovites” genoem.  Namate Moskou en omgewing ekonomies sterker word, word dit ook die melkkoei van die Mongole.

Ivan I tref in 1325 ’n ooreenkoms met die Mongoolse oorheersers om as belastinggaarder vir hulle op te tree in Moskou en omgewing.  Dit gee hom die bynaam van “Taxman”  en “Money Bag”.

In Moskou word ’n weerstandsmag van 50 000 man opgebou.  In 1380 begin ’n verwoede oorlog onder leiding van Prins Dimitri teen die Mongoolse oorheersing.  Tienduisende Russe en Tartare sneuwel.  Die Don-rivier se water is rooi gekleur van die bloed.  Dimitri word verwond, maar oorleef.  Die veldslag is deur die Russe gewen, maar dit was maar net die begin van ’n stryd wat nog 100 jaar sou duur.

Ivan III bou in dié tyd ook die Russiese leër op.  In 1480 weier hy om die belasting aan die Mongole te oorhandig.  Hy skeur die skuldbrief van die Mongoolse afvaardiging op en verklaar so oorlog teen hulle.

Ivan III skeur die belastingaanslag van die Mongole op in     1480

Ivan III behaal die oorwinning en verdryf die Mongoolse magte “finaal”.  Die mag van die Mongole in die huidige oorheersing oor die land, is gebreek.  Die land word om die tsaar, Ivan III, verenig en Moskou word die onbetwiste hoofstad van Rusland.

Ivan III kry argitekte van Italië in en bou Moskou op tot ’n “heilige” stad wat die sentrum van die Ortodokse Kerk word.  Hy vergroot die Kremlin en versier dit met19 wagtorings in die muur.

GESKIEDENIS VAN DIE RUSSIES-ORTODOKSE KERK

In geen land ter wêreld was die kerk só nou met die staat gebind as in Rusland nie.  Dit laat ’n droewe beeld van die kerk.  In geen land was die staatshoof so betrokke by die regering van die kerk nie.

Die embleem van die land met die arend en sy 2 koppe, met die swaard en die kruis in sy pote, toon hierdie verhouding ook duidelik.


Embleem van Rusland

Die twee groot setels van die kerk in die Middeleeue was in Rome en Konstantinopel.  In 1453 het die Turke Konstantinopel verower en dit die hoofstad van die Ottomaanse Ryk gemaak.  Hiermee is die Bisantynse Staatskerk verslaan en die sentrum van die Ortodokse Kerk na Moskou verskuif.  En in Rusland, wat nou ’n politieke en ekonomiese groeitydperk beleef, brei die Ortodokse Kerk in gelyke mate uit.

Die uitbreiding van die christendom in die Russiese Ryk gaan nou hand aan hand met die nasionale oplewing.  So word die christelike en nasionale ideale spoedig met mekaar vermeng.  Dit maak van Rusland ’n geïntegreerde christelike land.

Die godsdiens in die land is meer op die praktiese uitlewing van die geloof as die dogmaties-teologiese gegrond.  Die liturgie staan neutraal in die kerk.  Dit verklaar ook waarom die Hervorming met sy klem op die regverdigmaking deur die geloof in Jesus Christus, nie eintlik invloed op die Ortodokse kerk het nie.  Die geografiese geskeidenheid speel natuurlik ook ’n rol.

In die tweede helfte van die sewentiende eeu kom daar ’n hervorming binne die Russiese Kerk en dit bestaan uitsluitlik in die hervorming van die liturgie.  Hierdie vernuwing was so ingrypend dat ’n groep van die “konserwatiewes” wat nie met die vernuwing kon saamgaan nie, afsplinter.

Op een tydstip kom daar wel tekens van invloed van die Hervorming voor.  Dit gebeur deur kontak van die Patriarg van Konstantinopel, Cyrillus Lukaris (1572 – 1638) met die Protestantisme in sy studente-dae in Italië.  Die kontak wat hy ook gehad het met Nederlandse en Engelse gesante in Konstantinopel, het hom in kontak en korrespondensie met teoloë in Genève gebring. 

Hierdie invloede van die Gereformeerde wêreld gee daartoe aanleiding dat die belydenisskrifte van die Hervorming in Grieks en Latyn vertaal word.  Dit het die teenstand van Rome en die sultan ontlok en het dalk daartoe aanleiding gegee tot Cyrillus se gewelddadige dood deur verwurging.

Tsaar Alexander I en Nicolas I begeer in die 19de eeu ’n verenigde Russies e ryk met een taal en een kerk.  Die tsaar se denke domineer die kerk.  Die kerk word geïsoleer van invloed uit die weste.

Dit is veral die kerkleiers wat deur die tsaar ingetrek word in die luukse en weelderige lewe.  En dit terwyl die priesterdom en die volk in die grootste ellende en armoede leef.  In die hart van die kerk bestaan daar egter deurgaans ’n lewende geloofsgemeenskap wat die hart van die evangelie voortdra.

Wat vir óns belangrik was, is dat Rusland ’n geïntegreerde christelike georiënteerde land was.  Die kommunisme met sy ateïstiese inslag het hieraan sekerlik ’n ernstige knou gegee.  Ons kon weens ons beperkte kommunikasie met die plaaslike bevolking en natuurlik die taalprobleem nie agterkom hoe christelik die algemene bevolking is nie.  In die kerke wat ons besoek het, was daar net toeriste en ons het geen gemeentelike aktiwiteite in die kerke ondervind nie.  Die uitsondering was die kerkgebou in Yaroslavl waar “’n jong “dominee” of “priester” (en sy vrou?) opgedaag het en hardop bepaalde religieuse prosedures deurgegaan het.  Daar was klaarblyklik geen gemeentelede teenwoordig nie, maar dit het hulle nie gepla in die uitoefening van hul liturgie nie.

Dit is vir ons tog wonderlik dat daar soveel christelike terme in die name van kerke en ander plekke ingebou is en assulks in die terminologie van die Russe voorkom.  Voorbeelde hiervan is die name van kerkgeboue soos onder andere “Cathedral of Christ our Savior”, “Church of Our Savior on the Spilled Blood”, die “Resurrection Gate” aan die Rooiplein, en ook die benaming van St Petersburg wat verwys na die apostel, Petrus wat deur die Roomse kerk as “heilige” verklaar is.

St Petersburg se eerste naam was Pedrograd, vernoem na Peter I.  Daarna word die stad genoem, St Petersburg, genoem na die apostel, Petrus.  Ná Lenin se tyd word die stad na hom vernoem, nl. Leningrad.  En uiteindelik gaan die naam terug na die vernoeming van die apostel, Petrus, nl. St Petersburg.

Dit is vir ons verder wonderlik dat die kerkgeboue wat weens soveel oorloë beskadig is, wel met groot koste en moeite tot hul eertydse glorie herstel is.  Was daar ’n religieuse motief, of was bloot die kulturele erfenis op die spel?

“Cathedral of Christ the Savior” in die middestad van Moskou sedert 1990 gerestoureer

Die “Cathedral of Christ the Savior” is in die 18de eeu gebou.  Dit is in 1931 deur Joseph Stalin afgebreek.  Die katedraal is sedert 1990 weer herbou.

Die deurwag in die Cathedral of Christ our Savior in Moskou met wie ek wel in ’n kort gesprek betrokke was, het klaarblyklik geen begrip van die beginsels van die leer van Jesus nie.

Hoe dit ook al sy, is Rusland die land met ’n ernstig christelike verlede, wat ons gebede nodig het vir die herstel van die christelike geloof in die harte van sy mense sodat hulle die troos en vreugde van die verlossing in Christus nie sal mis nie.

Uit die boek van Günther Wegener, vertaal as:  “Die Lewende Kerk”, vind ek egter ’n breër prentjie:

In 1961 sluit die Russies Ortodokse Kerk hom, na eeue lange terugtrekking en afsondering, by die Wêreldraad van Kerke aan.  Dit is in die hooggety van Kommunisme.  Die wêreld was verstom dat die kerk in Rusland so lewend is en voortbestaan.  Die Russiese Kommunistiese Staat het tog nooit twyfel gelaat dat dit ’n ateïstiese grondslag het.  Die nuus het tog die wêreld vol getrek van die kommunistiese vervolging van christene en die kerk.  Die Bolsjewistiese Party was uitgesproke daaroor dat dit geen kerk wil hê nie.  Ten spyte daarvan het hy die christelike gemeentes vryheid van godsdienstige handelinge veroorloof.  Hulle kon mense tog nie verbied om te glo, en die Here te dien nie.

Die verskil kom daarin dat die staat slegs liturgiese godsdienstige handelinge toegelaat het, maar elke vorm van kerklike openbare arbeid, diakonale dienswerk, opvoedkundige en kulturele werksaamhede was verbode.  Dit sluit eventueel die verbod op sendingwerk en Bybelverspreiding in.  En dit is wat die wêreld as godsdienstige vervolging en onderdrukking beleef het, want dit raak die essensie van die kerk.

Die Russies Ortodokse Kerk het hierdie beperkinge egter nie so intens beleef nie, want hulle is meer ingesteld op die liturgie en aanbidding in die kerk.  Wegener stel dit dat dit bewonderenswaardig is dat die gemeentes in Rusland “innerlike lewendigheid behou het”, hoewel alle moontlikheid hulle ontneem is om hul invloed na buite te laat geld.  Niemand kon hulle verbied om te glo, die Here te dien en te bid.

Daarom was daar volgens Wegener in 1965, toe die boek gepubliseer is, “sowat 150 miljoen christene in Rusland.  Die Russiese kerk is ryk, nie net aan innerlike lewe nie, maar ook aan stoflike goedere.”

Hoe dit nou vandag gesteld is, is ’n ander vraag.

GESKIEDENIS VAN DIE STAARS

Aan die einde van die Middeleeue groei daar ’n magtige nasie in die weste van Europa en oos van Asië in die streek wat later as Rusland identifiseer.

Die leiers het mekaar soos in ’n monargie opgevolg.  Dit is gewoonlik die seun wat die vader opvolg, of die vader wys iemand as sy opvolger aan.

Die uitstaande of bekendste van hierdie ry van leiers is Ivan die Verskriklike wat die land in chaos dompel; en dan die held wat die land optel uit die ordinêre na die superieure, Peter die Grote.

Ivan die Verskriklike is Ivan IV wat regeer van 1533 tot 1547.  Peter die Grote, is Peter the Great, of Peter I, en regeer vanaf 1682 tot 1725.  Ivan die Verskriklike laat die land in chaos, terwyl Peter die Grote die land tot die hoogte ophef.

Die naam wat herhaaldelik in hierdie ry van leiers voorkom, is die Ivans.

Ivan I                                             1332 – 1340
Ivan II                                           1353 – 1359
Ivan III (Ivan The Great)              1462 – 1505      Oorlede 1505
Ivan IV (Ivan die Verskriklike)    1547 – 1584      Het 8 vroue gehad.
Ivan V                                           1682 – 1689
Ivan VI  (’n Baba)             1740 – 1741   Gebore 1740          Oorlede 1764 weens                                                                                          mesdood tydens ontsnapping

Ivan IV se ouers, Basil, was eers kinderloos.  Hulle het in die Klooster van Kirillov, die “Kirillov Belozersky Monastery”, om ’n seun gaan bid.  Toe hulle na ’n tyd wel ’n seun ontvang, skenk die vader ’n groot bedrag geld aan die klooster waarmee die kerk in die klooster gebou is.

Ivan die Grote

Ivan III, ook genoem as “Ivan the Great”, of “The Grand Prince of Moscow”, of ook “The Grand Prince of all Russia”.  Hy is op 22 January 1440 in Moskou gebore en sterf in Moskou op 27 October 1505.

Ivan III

Hy het in sy tyd die grondgebied van Rusland verdriedubbel.  Hy het die dominansie van die “Golden Hordes” van Mongolië begin bestry deur die belastingbrief van die Khan van Mongolië op te skeur.


Woedende Mongole voor Ivan III wat die belastingbrief van die Khan opskeur

Ivan III staan ook bekend as die man wat sy eerste vrou in ’n konvent laat toesluit het omdat sy nie vir hom ’n kind kon bring nie.  Toe hy weer trou, verdoem die kerk hom met vervloeking dat hy deur ’n swakkeling opgevolg sal word, dat trane in die stede sal vloei, dat bloed op die vlaktes sal loop en dat stede verwoes sal word.

Hierdie professie van die patriarg van die Ortodokse Kerk het klaarblyklik in vervulling getree toe sy kleinseun,  Ivan IV, optree.  Die nag toe hy gebore is, het ’n donderstorm met weerligstrale die Kremlin geteister.

Ivan III het die Kremlin herstel en die grondslag gelê van die Russiese Staat.  Hy was ook een van die persone wat die langste in Rusland regeer het.

In die 15de eeu tree Ivan III as leier op en dryf die Pole en Lithuanians terug en verower so Novgorod en sy provinsie as Russiese gebied.

In 1453 val Konstantinopel in die hande van die Turkse Moslems.  Ivan III beskou homself as die erfgenaam van oostelike Romeinse Ryk.  Die Oosterse Ortodokse Kerk verskuif na Moskou.  Hy word daarmee ’n persoon soos die keiser wat in Russies vertaal, die tsaar is.

Ivan III neem ook die embleem van die gevalle Bisantynse owerheid oor.  Die embleem bestaan uit ’n arend met twee koppe, wat die kerk en die staat voorstel.  Die simboliek van die embleem is absolute outoriteit.  Ivan verklaar dit as sy persoonlike embleem.

 
Russiese embleem

Ivan neem ook vir hom ’n vrou uit die koningshuis van die Bisantynse keiser (Khan) en dus ook koninklike bloed uit die Romeinse Ryk.

Ivan kry argitekte uit Rome om die Kremlin te omskep in ’n sakrale christelike heiligdom.  Die omvang van die muur om die Kremlin word ook vergroot en met 19 torings versier.

{Sien Google onder die soeknaam:  “Ivan III of Russia}

Ivan die Verskriklike

Die nag toe hy in 1530 gebore is, het ’n donderstorm met weerligstrale die Kremlin geteister.  Die legende lui verder dat daar aangekondig is dat ’n monster gebore is en dat die baba reeds 2 tande het! Met die een sou hy die Russe verorber en met die ander die Mongole.

In 1547 kom Ivan IV aan bewind.  Hy word later bekend as Ivan die Verskriklike (Terrible). Hy noem homself:  Tsaar.  Hy word genoem: die eerste Tsaar.

Dit is die moeite werd om by hierdie man stil te staan.  Hy was ’n onstabiele, wrede man wat vermoedelik aan veelvuldige sielkundige afwykings gely het.  Hy staan bekend as :  “The most evil man in history.”

Kyk hoe het hy volgens ’n skildery gelyk :


Ivan die Verskriklike

Ivan is gebore op 25 Augustus 1530.  Sy vader, Basil III, sterf toe hy 3 jaar oud is.  Sy moeder tree as regent op.  In die stryd om heerskappy terwyl hy nog klein is, word daar nagenoeg 14 moorde in die Kremlin gepleeg, waarvan die kind, Ivan, van sommige ooggetuie was.  Dit mos ’n geweldige indruk om die kind gemaak het, wat ’n duidelike merk op sy wrede karaktereienskappe gelaat het. 

Sy moeder sterf toe hy 8 jaar oud is.  Lede van die adelstand maak hom groot, waarskynlik in die Moskou Kremlin.

As kind verdink hy mense dat hulle sy ma vermoor het.

As kind speel hy graag met diere maar is baie wreed met diere.  Hy gooi vir sy vermaak honde vanuit die kerktoring.

Hy was maar 13 jaar oud toe hy tydens ’n Kersete aan tafel aankondig dat hy ’n sekere familie uitsonder vir verraad.  Hy stel dit aan die familie dat een van hulle uitgesonder sal word vir wraak.  Toe ’n sekere prins Andre (die van kan ek nie op die video uitmaak nie) uit daardie familie in die Kremlin stap, gee Ivan aan die hondewagter bevel om die veghonde los te laat.  Die honde het Andre toe verskeur.

In 1547 word Ivan IV op 17-jarige ouderdom as leier gekroon.  Hy noem homself ’n tsaar, wat vertaal kan word as keiser.  Dit is ’n titel wat sy oupa soms vir homself toegedig het.  Dit is die begin van die Tsaardom.

Rusland beslaan toe reeds ’n oppervlak van 1 miljoen vierkante myle.  Dit is meer as 2 maal die grootte van Engeland, Frankryk en Spanje saam.

Hy stel hom ten doel:

1.      Om die Mongoolse hordes wat die land weer begin stroop het, te beveg.
2.      Om toegang te verkry tot die Baltiese See en die Swart See.

Hy skep die eerste Russiese Geheime Polisie. 

Hy brei se land se grondgebied uit na die weste en die ooste.  Hy verower Siberië en lyf dit by Rusland in.

Hy verower die land van Kazan en brei die landuit tot aan die kus van die Kaspiese See.  Om hierdie verowering te gedenk, laat bou hy ’n katedraal op die suidelike kant van die Rooiplein en vernoem dit na sy vader, Basil:  “St Basil’s Cathedral”.

Ivan se heerskappy was op ’n hoogtepunt.  Sy mag is gerespekteer deur die Pole, Turke, Duitsers en selfs tot in Engeland.

Sy eerste vrou was Anastasia met wie hy in1547 op 17 jaar ouderdom trou in die jaar dat hy gekroon is.  Hulle het 6 kinders gehad.  Hy was klaarblyklik baie gelukkig met haar getroud.  In hierdie tyd was daar geen teregstelling in die land nie.  Dit was die beste deel van sy regeringstyd.

Toe Anastasia op 30 sterf, glo Ivan dat sy vermoor is.  Hy laat ’n paar verdagtes martel en selfs teregstel. 

Toe die stad en provinsie van Novgorod kom in opstand.  Ivan slaan toe en dood nagenoeg 15 000 mense:  manne, vroue en kinders.

Die argitek van die St Basils Cathedral slaan hy met blindheid.

Volgens ’n historikus het hy in sy lewe 10 000e van 10 000e mense doodgemaak.

Ivan stel homself later aan as hoof van die kerk.  Hy stel streng maatreël vir die gedrag van monnike en nonne in.  Hul moet 3:00 in die oggend opstaan en hul godsdienstige verpligtinge nakom.  Hy neem self deel aan die oggend-mis.  Smiddae besoek hy die ondergrondse gevangenis en voer martelinge en teregstellings uit.

Ivan glo deurgaans dat hy in die Naam van God optree.

By geleentheid het hy sy’s eie skoondogter so geslaan dat sy ’n miskraam gekry het. 

In sy eie stad en land ondervind hy egter gedugte teenstand.  In 1564 breek Ivan se top generaal, Andre Koersky  (so klink die van op die video), weg uit die leër.  Hy skryf ’n brief aan Ivan.  Hy beskuldig hom daarvan dat hy dié monarg is wat ’n geseënde van God was, maar nou korrup is tot in die diepste van sy wese.  Hy vra hom waarom hy die lewenskragtige soldate in sy weermag wat deur God aan hom gegee is, misbruik en vermoor.

Andre se brief het Ivan se wraak tot die breekpunt gebring.  Hy verval in ’n diep depressie.  Hy dreig om te abdikeer.  In die winter van 1664 verlaat hy Moskou.  Die volk vrees dat hulle leierloos sal onder gaan.  Die “Muscovites” gaan pleit by hom om terug te keer.  Hy voldoen aan hul versoek op voorwaarde dat hy absolute mag verkry.  Almal is aan hom verslag verskuldig.  Alle mag setel voortaan in die tsaar.

Ivan word ’n maghebber wat geen kritiek verdra nie.  Hy ontaard in ’n gruwelik-wrede mens.  Hy vee sy teenstanders voor hom weg. 

Met sy terugkeer in Moskou draai hy teen sy adviseurs, vroeëre bondgenote, sy ou vriende en families met wie hy saam grootgeword het.  Hy vertrou nou niemand nie.  Hy stop baie van hulle in die tronk, martel hulle en stel van hulle tereg.  Die gesegde ontstaan dat hoe nader jy aan die tsaar was, hoe nader is jy nou aan jou dood.  Dit is hier dat hy die naam “Ivan die Verskriklike” verkry.

Twee dae ná sy terugkeer in die stad laat bou Ivan 17 galge op die Rooiplein en stel 300 mense tereg voor die St Basils Cathedral.  Almal wat hy verdink het wat teen hom weerstand gebied het; edel mense, enigeen, selfs priesters, word tereggestel; opgehang of onthoof.

Hy vermoor selfs die familie van sy vyande, want hy wil nie hê dat daar iemand moet wees wat vir die gestorwenes in die doderyk moet kan bid nie (sic)!  Daardeur verhef hy homself tot God.

Hy stig ook “Men in Black”.  Hulle was 300 uitgesoekte manne wat in swart geklee is met swart gesigsdoekie.  Hulle ry op swart perde.  Hy stuur hulle deur die land waar hulle met mag en mening sy wil op die bevolking afdwing.  Hulle tree op in die styl van die Spaanse Inkwisisie.  Hulle is betrokke by talle martelinge en doodslag.

Ivan ontwikkel ’n besondere voorliefde vir marteling en ontwerp nuwe maniere van teregstelling met die woorde:  Hy het byvoorbeeld vir monnike wat tereggestel is, gesê;  “You want to be like the angels?  Well, here you go!”  Ander maniere van foltering tot die dood toe wil ek liewer nie hier noem nie.

Vir 8 jare voer Ivan oorlog teen sy eie mense.  Toe vyande van buite opdaag, is die land nie sterk genoeg om na buite te veg nie. 

In 1571 val die Tartare die land uit die suid-ooste in.  Hulle bereik Moskou en brand die stad in 3 dae af.  60 000 mense sterf op een dag.  Ivan kom bietjie tot sy sinne en trek die “Men in Black” terug.  Dit is egter te laat.  Die land is tussen 50 en 60% ontvolk.

Ivan se heerskappy was egter nog nie geblus nie.  Hy maak selfs ’n huweliksvoorstel aan ’n Maria aan die koninklike hof van Engeland om sodoende koninklike bloed in sy nageslag te versterk.  Hy het egter geen ambisie nodig om ’n troonopvolger daar te stel nie, want hy maak staat op sy geliefde oudste seun by Anastasia.  Sy oudste seun het sy pa se drang na kennis en mag, en selfs sy wreedheid gedeel.  Hulle was geesgenote.

In November 1581 was Ivan bitter ongelukkig oor sy seun se keuse van ’n vrou en dié vrou se gedrag teenoor Ivan.  Die seun het hieroor met sy pa gepraat.  Ivan was so blind van woede dat hy sy geliefde seun en potensiële opvolger met sy ysterstaaf doodgeslaan het. 

As godsdienstige man het hy telkens vir die moorde wat hy gepleeg het, in die “Cathedral of the Archangel” vergifnis gaan vra het.  So het hy dit ook oor sy seun gedoen.  In daardie katedraal het ons die bieghokkie gesien van Ivan IV.  Dit was groter as die ander tsaars se bieghokkies.  Ons gids het met die tong in die kies gesê dat dit groter is omdat hy meer sonde gehad het om te bely.

Teen die einde van sy lewe lei die diep depressie en paranoia hom om by hekse en waarsêers hulp en raad te soek.  Hulle voorspel sy dood vir 18 Maart 1584.  Hy sterf op 54 jarige ouderdom, waarskynlik aan beroerte kort voor middernag op 18 Maart 1584 terwyl hy skaak speel.

Ivan IV het Rusland omskep vanaf ’n koninkryk na ’n ryk (“Empire”).  Die land verval nou leierloos in chaos.  Nou lê “Time of Trouble” vir Rusland voor.  Die land is in chaos.  Mense het nie kos om te eet nie.  Daar breek self kannibalisme uit. 

Ivan word begrawe in die “Cathedral of the Archangel” in die Moskou Kremlin.  In 1963 is sy liggaam opgegrawe en is daar afwykinge in sy rugwerwels gevind.

Ivan laat Moskou en Rusland in administratiewe en ekonomiese chaos agter.  Hy het wel die landsgrense uitgebrei, maar die land verdeel en verswak.

Ivan se seun, Feodor, volg hom in1584 op.  Hy het ’n groot taak om die land weer op te bou maar is, weens gestremdheid, hoegenaamd nie daartoe in staat nie.  Eintlik sou Peter the Great dit eers 100 jaar later regkry.

Ivan die Verskriklike se 8 vroue  (Tsarisas)

1.      Anastasia:       Soos reeds gemeld was Ivan se eerste vrou Anastasia.  Hy trou met haar op 17 jaar-ouderdom.  Sy het 6 kinders gehad.  Hy was klaarblyklik baie gelukkig met haar getroud.  Toe Anastasia op 30 sterf, glo Ivan dat sy vermoor is.  Hy laat ’n paar verdagtes martel en selfs teregstel. 
2.      Maria:             Sy was ’n Moslem-meisie.  Ivan trou in 1561 met haar oor haar skoonheid; ’n jaar na Anastasia se dood  Toe hy haar beter leer ken, hou hy nie meer van haar nie.  Die volk het haar gehaat.  Sy was ook ’n slegte stiefma vir Ivan se seuns.  Sy sterf op 25.  Ivan vermoed dat sy vergiftig is.  Hy martel verdagtes.  Die volk het egter vermoed dat dit Ivan self is wat haar vergiftig het.
3.      Marfa:                        Sy was een van 12 finaliste in die kompetisie om met Ivan te trou.  Sy was die dogter van ’n handelaar.  Sy sterf egter ’n paar dae na die troue.   Anastasia se broer verdink Ivan dat hy haar vergiftig het.
4.      Anna Kotovskaya:    Die kerk was teen hierdie huwelik gekant, omdat dit reeds Ivan se 4de huwelik was.  Die huwelik was kinderloos.  Twee jaar na die troue promoveer Ivan sy vrou na ’n klooster om daar vir die res van haar lewe as non te dien.  Sy het uiteindelik langer as Ivan geleef.
5.      Anna Vasichikova:    Drie jaar na die vorige huwelik, trou  Ivan in 1575 met nog ’n Anna, weereens teen die kerk se seën.  Sy word na 2 jaar se kinderlose huwelik ook na ’n klooster gestuur.  Hier sterf sy na ’n tyd gewelddadig; vermoedelik deur Ivan se toedoen.
6.      Vasilika:         Sy was die weduwee van ’n prins wat in ’n oorlog gedood is.  Sy was baie mooi en goedgeaard.  ’n Paar maande na die huwelik vind Ivan uit dat sy aan hom ontrou is.  Haar minnaar was ’n prins.  Hy is voor haar oë deurboor.  Ivan het haar lewend begrawe.
7.      Maria Dolgorukaya:             Ivan trou in 1580 met hierdie Maria.  Sy word ook ontrou bevind.  Ivan het haar verdrink.
8.      Maria Nagaja:           Ivan trou in 1581 met hierdie Maria.  Sy word die moeder van Ivan se seun, Dimitri.  Na Ivan se dood in 1584, word sy verban en vlug sy met die seun na die dorp, Uglich, langs die Volga.  Dimitri was blykbaar die laaste nageslag van die Rurik-familie.  Hy was dus baie kosbaar vir die voortbestaan van die Rurik-Dinastie.  Sy steek die seun weg by die huis in die Uglich-Kremlin wat sy verkry het.  Hy word egter opgespoor.  In die tuin van die huis langs die rivier word hy in 1591 op 9 jarige ouderdom wreedaardig vermoor.  Sy moeder snel hom te hulp en probeer om die bloed uit die wond aan sy keel stuit.  Hy sterf in haar arms.  Later word sy daarvan beskuldig dat dit haar nalatigheid was dat Dimitri vermoor is.  Toe daar later ’n valse Dimitri in 1605 uit Pole na vore kom en verklaar dat dit toe nie hy is wat vermoor is nie, en aanspraak op die troon maak, word Maria geforseer om die Pseudo-Dimitri as haar seun te identifiseer.  Na hierdie Pseudo-Dimitri, wat Dimitri I geword het, dood is, erken sy dat sy onder dwang ’n vals verklaring afgelê het.

Die laaste Ruriks en die eerste tsaars

Eers vanaf  1547 word die leiers Tsaar genoem.  Ivan IV, bekend as “Ivan die Verskriklike”, was nog ’n afstammeling van die Ruriks.  Hy het homself “Tsaar” genoem.  “Tsaar” is blykbaar die Russiese woord vir “Keiser”.

Die eerste tsaars is soos volg:  (Dit is interessasnt om op te let op watter (jeugdige) ouderdom hulle gekroon is en op watter (vroeë) ouderdom hulle sterf.)
NAAM                              REGEER         GEBORE   STERF   MANIER VAN STERF
Ivan IV, die Verskriklike  1547 – 1584     1530           1584       Beroerte
Feodor I                             1584 – 1598                       1598       Gestremd

Hier eindig die Rurik Dinastie

TIME OF TROUBLE    Pseudo-Dimitri’s

Tussen 1598 en 1610 het 6 persone as tsaar ageer, maar almal het gesterf na ’n kortstondige heerskappy.  In hierdie tyd het die Tartare die land weer van die suid-ooste ingeval en die Swede van die noord-weste.  So-ook die Pole uit die weste.  In 1610 bereik die Pole Moskou en neem die stad in.

Die patriarg van die Ortodokse Kerk tree as pleitbesorger by die volk op.  Binne 2 jaar word Moskou van die Pole ontset.  Die volk besef dat hulle ’n dringende behoefte aan ’n tsaar het.

0ooo0000ooo0

Ná die moord op die 9-jarige Dimitri, seun van Ivan die Verskriklike, in 1591 in Uglich, kom daar drie persone uit Pole wat beweer dat die verkeerde “Dimitri” in Uglich vermoor is, en dat hy die ware Dimitri is wat ontkom het en in Pole gaan skuil het.

Pseudo-Dimitri I:       Hy slaag daarin om die Russe te oortuig en bestyg die troon as tsaar vanaf 21 Julie 1605 tot 17 Mei 1606.  Hy word egter binne ’n jaar ontmasker.  Dit word bevind dat hy in die geheim ’n aanval van Pole op Moskou orkestreer.  Hy probeer om deur ’n venster te ontsnap.  In die proses breek hy sy been.  Hy word deur ’n soldaat doodgeskiet.  Sy lyk word op die Rooiplein uitgestal.  Daarna word sy lyk verbrand.  In ’n simboliese daad word sy as in die loop van ’n kanon se loop geplaas en in die rigting van Pole afgevuur.

Pseudo-Dimitri II      ’n Tweede vals Dimitri daag uit Pole op.  Wonderbaarlik kry hy dit ook reg om die Russe van sy identiteit as die ware Dimitri te oortuig.  Hy heers as tsaar vanaf 20 Julie 1607 tot 11 Desember 1610.  Toe word hy ook ontmasker.  Hy word met ’n pistool doodgeskiet.  Daarna word sy kop en hande met ’n swaard afgesny.

Pseudo-Dimitri III     Ongelooflik genoeg daag ’n derde “Dimitri” uit Pole op.  Hy kry dit ook reg om die Russe van sy identiteit te oortuig.  Hy heers vir 10 maande as tsaar vanaf 28 Augustus 1611 tot Julie 1612.  Hy word ontmasker en tereggestel

Blykbaar het die Russe so na hierdie “Dimitri’s” gegryp omdat dit hul laaste hoop was op die voortsetting van die Rurik-Dinastie.  Dit is een van die redes waarom dit “The Time of Trouble” genoem is.

Die Pseudo-Dimitri’s word as een van die Russiese raaisels in die geskiedenis beskou.

{Sien volledige geskiedenis op Google onder die soek-woorde:  “Russia False Dimitri I”,  “Russia False Dimitri II,  en “Russia False Dimitri III”}

Die “Time of Trouble” was ’n periode in die Russiese geskiedenis tussen die dood van die laaste monarg uit die Rurik Dinastie, Feodor I, in 1598 en die optrede van die eerste monarg uit die Romanov Dinastie in 1613, Michael Romanov I.

Toe Feodor in 1598 kinderloos sterf, is daar geen opvolger vir die tsaar nie.  Dit stort die Russiese monargie in die katastrofale “Times of Trouble”.

Feodor, seun van Ivan IV en sy eerste vrou, Anastasia, is in Moskou gebore en as tsaar gekroon in die “Assumption Cathedral” in die Kremlin, Moskou.  Hy was egter fisies en intellektueel gestremd en het al sy amptelike pligte aan sy vrou se broer, Boris Godunov, oorgedra.  Boris was ’n betroubare minister en volg Feodor later as tsaar op.  Hy was egter nie in die bloedlyn van die Ruriks nie.

In die jare 1601 tot 1603 tref ’n hongersnood Rusland wat die land vêrder in onstabiliteit dompel.  Omdat daar nie behoorlik beheer in die land was nie, het van die “peasants” van die plase af gedros en die boere sonder arbeiders gelaat.  Ongeveer een-derde van die bevolking kom om; dit is 2 miljoen mens.  In hierdie tyd word die land ook beset deur die Pools-Lithuanian-alliansie.

Die heersers in “Times of Trouble” is dan soos volg:

NAAM                         REGEER         GEBORE   STERF    MANIER VAN STERF
Irina (Disputed)            1598 – 1598                        1603
Boris                             1598 – 1605                        1605
Theodor II                    1605 – 1605                        1605
False Dimitri I              1605 – 1606                        1606        Geskiet
False Dimitri II             1606 – 1610                        1610        Geskiet
False Dimitri III           1610 – 1613                        1613         Tereggestel

DIE ROMANOV-DINASTIE

’n Groot vergadering word gehou deur edeles, weermaghoofde, vooraanstaandes uit die boereklas en priesters.  Hulle is ’n sogenaamde eerste Russiese parlement .  Hulle vind uit dat daar ’n vêraf familielid van Ivan IV se eerste vrou in ’n klooster vêr van Moskou af grootword.  Hulle laat hom en sy moeder haal.  Hy is Mikhail (in Engels Michael) Romanov, 16 jaar oud.

Die Romanov’s volg die Rurik’s op as monarge van Rusland.  Hulle was blykbaar aangetroude familie van die Rurik’s.

Die bekendste name in hierdie dinastie is:  Ivan,  Peter,  Catherine,  Alexander,  Constantine,  Nicolas,  ens.  Hierdie monarge kan op Google nagespoor word met die soekwoorde:  “Early Russian Leaders”, of enige aanverwant onderwerp.

NAAM                              REGEER            GEBORE   STERF   MANIER VAN STERF
Michael Romanov I           1613 – 1645        1596            1645
Alexis I                              1645 – 1676        1629            1676
Feodor III                          1676 – 1682        1661            1682
Boris (Regent)                   1676 – 1682
Sophia (Regent)                 1682 – 1689       1657            1704
Ivan V                               1682 – 1689        1666            1696
Peter I (Peter the Great)    1682 – 1725        1672            1725       Siekte
Catherine I                         1725 – 1727       1692            1727
Peter II                              1727 – 1730                             1730
Anna                                  1730 – 1740       1718            1740
Ivan VI  (’n Baba)             1740 – 1741       1740            1764       Mesdood, ontsnapping
Elizabeth                            1741 – 1762      1709             1762          
Peter III                             1762 – 1762       1726             1762       Vermoor      
Catherine, the Great II      1762 – 1796       1729             1796          
Paul I                                 1796 – 1801       1754             1801          
Alexander I                       1801 – 1825       1777             1825       Sluipmoord 
Constantine I                     1825 – 1825                           1831       Regeer 25 dae
Nicolas I                            1825 – 1855       1796            1881       Sluipmoord
Alexander III                    1881 – 1894        1845            1894          
Nicolas II                           1894 – 1917         1868          1917      Tereggestel met gesin
                                                                                                         deur die Russiese SFSR,
                                                                                                         die Bolsheviks-Party
Michael II                          1917 – 1917                           1917       Regeer 1 dag
                                                                                                          Vermoor, ook deur
                                                                                                           Bolsheviks-Party     

{Sien Google onder soekwoorde:  “House of Romanov”}

Geskiedenis van die Romanov-familie van Rusland          1613 – 1917

Die leiers uit die Romanov-familie het vir meer as 300 jaar regeer van 1613 tot 1917.  Die Romanovs was ’n familie uit die edele klas wat terug gespoor kan word tot in die 14de eeu.

Die eerste Romanov wat as volksleier aangewys is, was Michael (Mikhal) Romanov van 1613 tot 1645.  Hy is deur die eerste Russiese parlement in die begin van die feodale stelsel as leier aangewys.  Hy was slegs 16 jaar oud.  Sy moeder het ernstig beswaar gemaak dat so ’n geweldig verantwoordelike taak aan die seun opgelê word.  Die landsleier het gesê dat die Here God hom daarvoor sal toerus.

Michael was as seun oorweldig deur die verkiesing.  Hy het nie daarvoor kans gesien nie, maar spoedig het die idee van verworwe mag hom oorreed.

Michael regeer van 1613 tot 1645 toe hy op 49 jaar ouderdom oorlede is. 

Sy seun, Aleksey, is ook 16 jaar oud toe hy sy vader moes opvolg in 1645.  Hy regeer tot 1676.

Aleksey se seun, Feodor, gebore 1661, volg hom in 1676 ook op 16 jaar ouderdom as volksleier op.  Hy was kreupel van geboorte af en het net 22 jaar oud geword.  Sy vrou se broer, Boris Godunov, ageer in sy plek. 

By Feodor se dood is die volgende persone in die kollig:  Feodor sy broer, Ivan, gebore 1666, en suster, Sophia gebore in 1657, sy half-broer, Peter gebore 1672 en sy moeder.

By Feodor se begrafnis in 1682, laat sy half-suster, Sophia, 25 jaar oud, ’n gerug die rondte doen dat Feodor weens ’n familie-moord dood is.  Soldate het onder aanvoering van Sophia op die familie toegesak en talle van hulle uit die paleis gesleep en op die mees wreedaardige wyse op die Rooiplein vermoor.  Peter en sy ma was ooggetuies hiervan en het deurgaans vir hul lewens gevrees.

Waar die intelligente Peter die aangewese troonopvolger is, eis Sophia nou dat die oudste seun, Ivan, gekroon moet word.  Ivan was fisies en geestelik gestremd en kon beswaarlik alleen loop.  As kompromie word besluit om Peter saam met hom te kroon.

Feodor se broer, Ivan Romanov, volg hom in1682 op, maar omdat Ivan V nog so jonk en onvolwasse was, gryp sy ouer suster, Sophia, in en dring daarop aan om namens hom vanaf 1682 te regeer.  Ivan wou ook nie die leier word nie, maar is daartoe verplig en oorreed.  As kompromie word sy half-broer, Peter, wat 6 jaar jonger as hy is, saam met hom in 1682 in Moskou tot tsaars gekroon.  ’n Spesiale troon met 2 sitplekke is vir die broers gemaak. 

Agter Peter se sitplek, is in die troon ’n klein venstertjie ingebou waardeur Sophia vir Peter kon voorsê wat hy moet sê!

Peter het in sy op 13 jaar ouderdom eksperimente gedoen oor die breekkrag van hout.  Hy het buite Moskou in die veld vir hom ’n hout-fort gebou en met ’n speel-weermag van 300 seuns uit die adel-stand  en andere die fort eksperimenteel aangeval.  Later het hy ’n regte kanon ingespan en 24 seuns gedood!  Hierdie speletjie het die grondslag gevorm van die Russiese leër wat Peter later opgebou het.

Tsaar Peter I op 12 jaar-ouderdom gekroon

Sophia ageer toe steeds namens Ivan en Peter.  Sy sluit selfs verdrae.  Peter kon dit nie meer hanteer nie.  In 1689 skryf Peter op 17-jarige ouderdom ’n brief aan sy half-broer, Ivan, en sê dat dit tyd is dat hulle die gesag wat deur God aan hulle verleen het, oorneem en hierdie “skandalige persoon” uit die samelewing verwyder.  Hulle laat sluit Sophia as ’n non in ’n klooster toe tot haar dood in 1704.


Sophia 1657 – 1704

Peter bou ’n leër op van 2 regimente.  Hy self troon as ’n man van 6 voet en 7 duim (2 Meter) bo almal uit.  Sy persoonlikheid en temperament is oorweldigend.

Ivan is in 1696 oorlede.  Peter is toe 25 jaar oud.  Peter regeer toe alleen tot en met sy dood in 1725.

Peter se eerste huwelik in 1689 op 17 jarige ouderdom, was ’n huwelik wat deur sy moeder vir hom gereël is en het spoedig op ’n egskeiding uitgeloop.

In 1724, ’n jaar voor sy dood, trou Peter amptelik met Catherine (Ekaterina).  Nie-amptelik was hy egter reeds sedert 1707 met haar getroud.  Hulle het 9 kinders gehad van wie net 2 in lewe volwassenheid bereik het.  Hulle was Anna, gebore in 1708, en Elizabeth, gebore in 1709.

Die geïsoleerde Russiese bevolking oor die uitgestrekte landskap van Rusland het ’n baie afgesonderde lewe gelei en was nog verstok in die Middeleeue.

Peter was ’n baie energieke en intelligente jong man.  Hy het ’n oop gemoed vir nuwe dinge gehad.  Hy het aanhou studeer en sy kennis ingespan tot voordeel van die land, Rusland.

Peter het soos baie ander voor hom daarna gestreef om toegang tot die oseane te verkry:  Die Swart See, die Baltiese See en selfs die Stille Oseaan.  Rusland was op hierdie stadium deur ander lande van die see afgesny:  In die noorde deur die Pole en in die suide deur die Ottomaanse Turke.

In 1695 ruk Peter met sy leër suidwaarts op.  Peter is vooraan in die artillerie.  Die Russe dryf die onderspit.  Die Russe ly swaar lewensverliese.  Peter besef dat hy ’n vloot nodig het vir hierdie oorlog.  Peter begin om ’n skeepswerf te bou.  Hy werk saam met sy manne.  Hy saag hout en slaan spykers in.

In Mei 1696 ruk Peter met sy bote op die Don-rivier suidwaarts op.  Peter is op die voorste vlagskip met kanonne weerskante gemonteer.  Hy gee sy manne opdrag om nie as tsaar aan te spreek nie, maar as kaptein.

Langs die bote ruk die leër op.  Peter oorweldig die Ottomane gemaklik en verower land wat Rusland toegang tot die Swart See gee.

Maar Peter wil meer hê.  Hy soek die tegnologie van die oorlogskepe van die Europa.

Peter I se reis na Europa

In 1697 onderneem Peter incognito ’n reis na Europa.  Gee ander tsaar was ooit buite Rusland nie.  Hy breek hierdie tradisie.  Hy reis onder die naam, Peter Mikhailov.  300 manne vergesel hom.  Hulle is edelmanne, vakmanne, musikante en bediendes.  

Peter doen homself as ’n gewone matroos voor.  Sy manne moes hom op die naam noem  Hulle noem hulself ’n Russiese afvaardiging of te wel “Grand Embassy”.  Hulle stel hulself ook as studente op ’n studie-reis voor.  Hy bestudeer kuns, metaalwerk, papier-vervaardiging. chirurgie, anatomie, tandheelkunde, ens.  Van sy manne was baie huiwerig om deel te neem aan die disseksie van lyke, wat in daardie tyd vir hulle ongekend was.  Hy het hulle toe verplig om ’n hap uit ’n lyk te byt.  Bo alles bestudeer hy skeepsbouwerwe. 

Hulle soek raad by Europese monarge oor hoe om die Ottoman Sultan wat die noordkus van die Swart See teister, af te weer.  Peter vind hierin baie gou bondgenote teen Ottoman.  Die Oostenrykers en Franse is hom behulpsaam. 

In Nederland gaan werk hulle in ’n skeepsbou-bedryf in Zaandam en in Amsterdam raak hy bevriend met die hooggeplaasde De Wild-familie waar hy aan huis gaan.


Peter en sy geselskap besoek skeepsbouwerwe in Nederland en Engeland

Hy weet ook dat Engeland die beste vloot het en reis daarheen.  In Engeland ontmoet Peter die koning, William II, hy besoek Greenwich en Oxford, asook die Engelse vloot.  Hy slaag daarin om ’n Britse boot op die Teems-rivier te bestuur. In Manchester leer hy die Engelse industrieë ken, en die kuns om stedelike gebied te ontwikkel.  Hierdie kennis het hy veral toegepas met die bou van die stad, St Petersburg.

Op die terugtog reis hulle deur Duitsland en besoek Leipzig, Berlyn en Dresden.


Standbeeld van Peter I besig om incognito in ’n Duitse skeepswerf te werk.

Peter se besoek aan Europa word kortgeknip deur ’n rebellie wat in sy eie land sy aandag opeis.

As mens dink aan die omvang van die reis en die primitiewe vervoer en nog die taalprobleme oorkom, is dit verstommend dat hy soveel in 16 maande reggekry het.  Dit is vir my ook verstommend dat hy met soveel manskappe so beweeglik kon wees en telkens akkommodasie kon bekom.

Ek kon ook nie vasstel of hy vir die hele reis incognito kon bly nie. 

Geskiedenis van die Romanov-familie van Rusland          1613 – 1917                (Vervolg)

Toe Peter I, terug is in sy land, val die kultuur-verskil met dié van Europa hom op. Sy eie land lyk vir hom primitief en agterlik.  Die kerk het te veel mag na sy sin.  Hy droom van ’n gemoderniseerde staat in die kultuur van Europa. 

Hy slaan ’n brug tussen die kulture van Rusland en die res van Europa.  Hy stel talle  hervorminge in.  Hy doen weg met baie van die tradisionele Russiese kleredrag en stel gemakliker Europese kleredrag in.  Mense se jasse is op straat korter geknip.  Mans is verplig om hul baarde af te skeer.  Die priester en die “peasants” het nie hierby ingeval nie.

Hy teiken die Russiese reaksie-mag van ’n groep musketeers wat soveel van sy familie vermoor het.  Peter I was egter ook vinnig van humeur en wreed.  Hy stel 1182 mense tereg.  Hy huiwer nie om self aan hierdie teregstellings deel te neem nie.

Peter laat ook fabrieke bou asook skeepsbouwerwe.  Hy besef die belangrikheid van skeepsvaart op die see.  Daarom beveg hy aan die begin van die 17de eeu die Swede om die kus van die Baltiese See by die mond van die Neva-rivier te verwerf  Die oorlog duur vir 20 jaar en eis 1000-de lewens.  Uiteindelik oorwin Peter se leër en kon hy St Petersburg bou.

Gedurende die oorlog begin Peter om in 1703 die fort op die Hare-eiland op die noordelike oewer van die Neva rivier te laat bou.  Dit was die begin van die bou van die stad, Pedrograd, later genoem, St Petersburg, wat later die noordelike hoofstad van die land geword het.

In 1721 word Rusland verklaar as ’n Ryk, “Empire”.  Peter word self die “Emperor”.  Rusland se grondgebied beslaan een sesde van die grondgebied van die wêreld, vanaf Europa deur Siberië tot aan die kus van die Stille Oseaan.

Weens gesondheidsprobleme sterf Peter in 1725 op 55 jarige ouderdom.

Weens gebrek aan ’n natuurlike opvolger word Peter se weduwee, Catherine, in 1725 as opvolger aangewys.  Dit was die eerste vrou wat Rusland as tsaar regeer het en dit was die begin van die dominasie van vroue-leiers.

Catherine was egter geen regeerder nie en het alle besluite aan haar adviseurs oorgelaat.  Ten einde raad is daar in 1726 ’n “Supreme Privy Council of Imperial Russia” ingestel.

Hierna verval die regeringslinie m.i. in ’n ellende van onbenullige, onvolwasse en onopgevoede regeerders.  Hieroor kan op Google gelees word “Russia the-romanovs”

As voorbeeld hiervan die volgende:  In 1740 sterf Anna onverwags.  Sy het haar kleinnefie, ’n baba-seun, as regent aangewys, maar nie besef dat sy so vroeg kan sterf nie.  Voordat hy een jaar oud is, word hy as Tsaar Ivan VI gekroon!  Amptelik was hy egter net vir 1 jaar die tsaar.  Toe hy groter word, is hy in ’n tronk aangehou.  Op 23 jarige ouderdom is hy in ’n ontvlugtingspoging doodgesteek.

{Sien res van die tsaar-geskiedenis op Google}

Nicolas II

Die laaste tsaar was Nicolas II 1894 tot 1917.

Nicolas is gebore 1868.  In 1894 word hy tot tsaar gekroon totdat hy op 15 Maart 1917 gedwing word om te abdikeer.  Dit was ongelukkig ’n tyd van ekonomiese en militêre agteruitgang in Rusland. 

Nicolas sy bynaam was “Nicholas the Bloody” weens verskeie aksies wat hy moes neem, bv. anti-Semitiese aksies en die gewelddadige onderdrukking van die revolusie van 1905.  Hy het talle van sy politieke opponente laat teregstel. 

As hoof van die staat het hy in Augustus 1914 goedkeuring gegee dat die Russiese militêre magte by die Tweede Wêreld-Oorlog betrokke raak, wat daartoe gelei het dat 3.3 miljoen Russe omgekom het.

Nicolas was juis op besoek aan die Russiese magte op die oorlogsfront toe die revolusie in Februarie 1917 in St Petersburg begin uitbreek.  Nicolas bevind homself in ’n baie moeilike posisie.  Hy word gedwing om te abdikeer en die Romanov-dinastie van 300 jaar tot ’n einde te bring.

Lenin laat Nicolas en sy hele gesin en huishouding in hegtenis neem.  Hulle word aangehou in die Alexander Paleis en later in ’n huis in Yekaterinburg ander kant die Ural-gebergte, m.a.w. in Siberië.

Volgens <Eyewitness to history.com> het die wagte inderdaad geweerskote gehoor en gevrees vir ’n bevrydingsmag.  Hulle het toe besluit dat die tsaar-familie gedurende die nag uitgewis moet word

Lenin wou seker maak dat die Romanovs nie weer ’n terugkeer maak nie.  Hy wou ook ’n finale einde aan die regering van die Romanovs maak.  Daar is verskeie weergawes van wat gebeur het.  Volgens die DVD wat ons op die boot gesien het, is die gesin vir ’n familie-foto bymekaargeroep word.  Nadat die foto op 16 Julie 1917 geneem is, is die hele gesin, Nicolas en sy vrou, hul seun en drie dogters, van agter ’n gordyn doodgeskiet. 


Nicolas II en sy gesin

Die bevelvoerder van die teregstelling-kampanje het egter volgens die Wikipedia Ensiklopedie die volgende verslag oor die gebeure uitgereik:

Om 2:00 die oggend van 17 Julie 1918 is die hele familie van Nicolas II wakker gemaak , beveel om aan te trek en vir hul veiligheid na die kelderverdieping van die huis te gaan.  Die familie se die huisdokter, Nicolas se lyfbediende (“footman”), ’n huisbediende en die familie-kok is ook ingeroep.

Die bevelvoerder het aan die familie meegedeel dat die owerheid besluit het om hulle tereg te stel.  Die vuurpeloton is ingeroep en die bevelvoerder het eerste op die tsaar geskiet.  Hy is verskeie kere deur die bors geskiet.  Daarna het die vuurpeloton op die familie en meelopers losgebrand.

Die familie-lede het soveel juwele en diamante in die some van hul klere ingewerk dat dit as skans vir sommige van die koeëls gedien het.  Daar is toe met bajonette op die gesin losgetrek.  Daarna is elkeen deur die kop geskiet om seker te maak dat hulle dood is.

Die owerheid het aanvanklik bekend gemaak dat die familie gedood is in ’n bevrydingspoging van anti-rewolusionêre magte wat hulle probeer bevry het.   Daar is later toegegee dat dit die wil van die revolusie is dat die oud-tsaar weens veelvuldige bloedige en gewelddadige aksies verwyder moes word.

Die moord is gepleeg en georkestreer deur die Russiese SFSR, die Bolsheviks Party onder leiding van Lenin op die nag van 16/17 Julie 1917.  Later is Nicolas deur die Russies Ortodokse Kerk gekanoniseer as martelaar in navolging van Christus, gely en gedood aan die hand van politieke vyande.

Later is ’n katedraal in St Petersburg opgerig in herinnering aan hierdie tragiese gebeurtenis:  “Cathedral of our Savior on the Spilled Blood”


Church of our Savior on the Spilled Blood Gebou in nagedagtenis aan die moord op Nicolas II en sy familie


Geskiedenis van Moskou

Die eerste vermelding van Moskou vind ons in 1147.  Toe was dit reeds ’n dorpie waar Yuri Dolgorukiy and Sviatoslav Olgovich mekaar ontmoet het.  Yury Dolgoruky fortifiseer die dorp in 1156 met hout-heinings en ’n grag.

Tydens ’n Mongoolse inval gedurende die eerste helfte van die 13de eeu, is die stad in totaal afgebrand en feitlik alle bewoners gedood.  Dit was ook die lotgevalle van die meeste Russiese dorpe en stede.  Die burgers van die land is aan Mongoolse oorheersing onderwerp.

Te midde van die Mongoolse oorheersing ontwikkel die stad tog in die 14de eeu weens sy ligging tussen die groot riviere en die digte bosse.

Moskou het begin met die bou van ’n fort, nl. die Kremlin in 1340.   In 1480 is die Mongoolse juk afgeskud.  Moskou word die hoofstad van die tsaardom totdat Peter the Great die hoofstad in 1712 na Petrograd, later St Petersburg, verskuif.  In 1918 skuif Lenin die hoofstad weer terug na Moskou.  Dit bring ’n ongelooflike groei-periode in die stad.

Op albei kante van die Moskou-rivier is die stad ontwerp, gegrond op 5 konsentriese sirkels rondom die Kremlin.  Aanvanklik was die sirkels gefortifiseerde mure maar nadat die stad in 1812 feitlik geheel en al afgebrand het, het dit in paaie of strate ontwikkel.


Napoleon brand Moskou in 1812 af

In die beginjare (1283-1547) is die stad die Grand Duchy genoem.  Die monarg, Daniel I gebruik die stad tot 1303 as sy hoofsetel.  Moskou word ’n toevlugsoord vir baie vlugtelinge.

In 1380 lei Prince Dmitry Donskoy van Moskou die Russiese leër in sy stryd teen die Mongole.  Hy behaal heelwat oorwinnings.  Dit was egter eers honderd jaar later in 1480 dat Ivan III finaal die Mongoolse juk afgeskud het.  Die Tatar-heerskappy is gebreek en Moskou word toe die onbetwisbare hoofstad.

Hoewel die Kremlin reeds in 1340 begin bou is, was dit Ivan III wat in 1480 argitekte uit die Renaissance uit Italië laat kom het om die Kremlin te herstruktureer.  Die mure van die Kremlin is in 1495 voltooi.  In die tussentyd is daar tog heelwat herstelwerk weens oorlogsbeskadiging aangerig.  Die Tzar’s Bell Tower is gebou in 1505 tot 1508.  In die jaar 1600 is die toring hoër gebou.

In 1508 – 1516 is ’n Italiaanse argitek verkry om ’n grag aan die oostekant van die Kremlin te bou.  Die grag was 541 meter lank, tot 13 meter diep en met leiklip uitgelê.  In 1533 is daar ’n muur langs die grag gebou.

Grag aan die oostekant van die Kremlin

In 1547 het 2 brande groot dele van die stad verwoes en in 1571 val die Krim-Tartare die stad weer aan en brand die hele stad, met uitsondering van die Kremlin, af.  Net 30 000 van die 200 000 inwoners oorleef.  In 1591 val die Tartare weer die stad aan maar hierdie keer word hulle deur nuwe verdedigingsmure gestuit.

In ’n hongersnood in 1601 – 1603 kom ongeveer 100 000 mense in Moskou om.  In die jare 1654-55 kom 80% van die bevolking om aan ’n pessiekte.  En in 1626 en 1648 verwoes brande weer houtstrukture in die stad.

In 1712 verskuif Peter the Great die hoofstad na die nuwe St Petersburg aan die Baltiese See.


Peter the Great

In 1813 word ’n poging aangewend om die stad te herbeplan en te verbeter.  Talle nuwe geboue word opgerig soos die Grand Kremlin Palace, die Kremlin Armoury, die Moskou Universiteit en die Bolshoi Teater.

In 1918 verskuif Vladimir Lenin die Russiese hoofstad weer van St Petersburg na Moskou.  Dit het die stad ’n groot hupstoot gegee.

Moskou oorleef 2 wêreldoorloë. 

In hierdie tyd ontwikkel daar ’n groot behuisingsnood in die stad.  Onder die sosialistiese bestel is daar toe massas vooraf vervaardigde huise in fabrieke gebou en in stapels opmekaar gesit.  Die beginsel van sosialisme is dat die staat vir sy mense sorg en dus ook behuising moet voorsien.

Op hierdie manier word die woonstelle so ekonomies moontlik ontwerp.  Elke woonstel het 2 slaapkamers en 2 woonstelle deel gemeenskaplik ’n badkamer en kombuis

In 1961 word die  MKAD ringpad geopen .  Dit het 4 bane in elke rigting en loop vir 109 km om die stad se buitenste grense.  Die MKAD het in hierdie tyd die grense van die stad aangedui.  Sedert 1981 is die stad buite hierdie ou grens uitgebou.

Bevolkingstal van Moskou groei vanaf 1918 van 1 miljoen tot bykans12 miljoen tans.

NAPOLEONTIESE OORLOG

Op 24 Junie 1812 val Napoleon Rusland in met 680 000 man.  Hy het seker gedink dit is ’n someruitstappie.  Alexander I was toe die tsaar.  Die Russe trek hom tegemoet en val kort-kort aan en val weer terug.  So vertraag hulle die opmars.  Met die terugval verwoes die Russiese leër hul eie dorpe en landerye.   Franse trek in ’n verskroeide aarde op en ly aan voedsel-tekort.  Die Franse kan nie glo dat die Russe dit aan hul eie mense doen nie.  

Toe Napoleon Moskou bereik vind hy dat die hele stad ontruim is.  Daar is niemand om mee te onderhandel nie.  Die swakkes en oumense wat wel in die stad agtergebly het, het die voorrade van die winkels reeds geplunder en weinig vir die Franse oorgelaat.

Napoleon maak van een van die kerkgeboue, Church of the Coronation, waar die tsaars gekroon is, in die Kremlin, sy perdestal.  Hy probeer so vêr moontlik om die stad af te brand.  In die Kremlin daar was blykbaar nie veel wat kon brand nie en het grootliks behou gebly.  Die brande wat daar wel voorkom, was skynbaar ’n poging van die soldate om warm te word.  Baie soldate het sommer in van die vakante huise in die stad gaan bly.


Brand in die Kremlin onder leiding van Napoleon

Die Franse magte van Napoleon het die stad en die Kremlin beset vanaf 2 September tot 11 October 1912.  Toe  Napoleon hom van Moskou onttrek, gee hy bevel dat die hele Kremlin opgeblaas moet word.  Die Kremlin Arsenal, verskeie dele van die Kremlin-muur en verskeie torings is deur ontploffings en brande verwoes.  Van die kerkgeboue in die Kremlin is ook beskadig.   Ontploffings het vir 3 dae geduur.  Gelukkig het reën die vuur gedemp en van die lont wou nie ontsteek nie.  Die skade was minder as wat Napoleon bedoel het.  Herstelwerk is gedurende die jare 1816 tot 1819 aangebring.

Napoleon brand Moskou af

Napoleon bly vir ’n maand in Moskou en keer in ’n suid-westelike rigting terug.  Sy leër is sonder algemene dissipline, gedemoraliseerd, kry koud sonder winterklere en ly aan voedsel-gebrek.  Die perde is in ’n baie swak toestand.  Hulle word voortdurend deur die plaaslike bevolking en die Kosakke aangeval.  Franse soldate glip snags uit die kampe en gaan soek kos.  Die Russies bevolking en die Kosakke val hulle aan en maai hulle af.


Napoleon en sy magte onttrek uit Rusland

Napoleon verlaat sy leër voordat hulle uit Rusland kom, en reis vooruit na Frankryk.  Op 14 Desember 1812 in die middel van die winter gaan die leër met die oorblywende 27 000 man oor die grens van Rusland.  Kan dit wees dat die Franse leër 653 000 man verloor het?

RUSSIESE REVOLUSIE

Die rampspoedige maatskaplike toestande, die gewetenlose uitbuiting van die volk, die dikwels dekadente adelstand, die uitspattige leefstyl van die tsaars, saam met die christelike kerk se gebrek aan invloed, lei uiteindelik tot die Russiese revolusie.

Die revolusie het eintlik ’n 1905 begin maar is deur Nicolas II onderdruk.

In November 1914 het Duitse troepe Rusland ingeval op pad na Moskou toe.  Die Russe het hulle ingewag en op die buitewyke van die stad afgeweer.

Die uitbreek van die revolusie moet ook gesien word in die feit dat dit binne die bestek van die Eerste Wêreld-Oorlog plaasvind.

Nicolas II het sy troepe aan die gevegsfront gaan besoek.  In sy afwesigheid het die Bolshevik Party in Februarie 1917 ingegryp en beheer oor die regering oorgeneem.  Nicolas was toe in Maart 1917 gedwing om te abdikeer en die 300 jaar van dinastie van die Romanovs af te sluit.

Die rewolusie is eers in die volgende jaar voltrek in die sogenaamde Oktober-revolusie.  Lenin verenig die Russiese state in die Sowjet Unie, die sogenaamde USSR.  Hierdie unie het in 1991 ná die val van kommunisme oorgegaan in die Russiese Federasie.

Ná die Russiese Revolusie in 1917 vrees Vladimir Lenin dat die hoofstad, St Petersburg aan die Baltiese See, ’n slagoffer van buitelandse invalle mag wees.  Hy verskuif die hoofstad dus terug na Moskou.

Moskou is nou weer die hoofstad.  Moskou is die stad met al die gebeure en intriges wat daar plaasgevind het met die nuwe beleid van sosialisme en kommunisme.  Binne die mure van die Kremlin word die strategie van die nuwe Russiese beleid uitgewerk.  ’n Gordyn van geheimhouding word rondom die regering getrek en die sogenaamde ystergordyn ontstaan.

GESKIEDENIS VAN DIE KOMMUNISTIESE TYDPERK

Om kommunisme te verstaan moet ons eers kyk na een van die grootste wetenskaplikes wat die 19de eeu opgelewer het:

Karl Marx

Karl Marx is gebore in Duitsland in 1818 en sterf in 1883.  Hy was ’n filosoof, ekonoom, sosioloog, historikus, joernalis en revolusionêre sosialis.  Sy bekendste boeke is:  “The Communist Manifesto” en “Das Kapital”.

Karel Marx   1818 – 1883

In 1842 werk hy as joernalis by ’n koerant in Parys.  In 1849 word hy verban en vlug hy na Engeland.

Marx se teorie behels die beginsel dat die samelewing beheer word deur die stryd en spanning tussen klasse.  Daar is spanning tussen diegene wat besit en die wat die werk moet doen.  Die verskil tussen die twee sal altyd groter word en so sal kapitalisme homself vernietig.  Hy stel ’n klaslose gemeenskap voor waarin almal vry assosiasie het.  Marx beywer hom vir die implementering van die stelsel en moedig werkers aan tot revolusionêre aksies om kapitalisme omvêr te gooi en sosio-ekonomiese veranderinge aan die gemeenskap te bring.

Marx word beskryf as een van die mees invloedrykste figure in die menslike geskiedenis.  Talle leiersfigure het onder sy invloed gekom.  Een van hulle was Vladimir Lenin.

Vladimir Lenin

Vladimir Lenin is in 1870 in Rusland gebore en sterf in 1924 aan beroerte.  Hy keer in April 1917 terug uit Duitsland waar hy as revolusionêre balling geleef het.  Hy is begrawe langs die muur van die Kremlin waar daar tans vir hom ’n praalgraf is.


Vladimir Lenin

Die Bolshevik Party gooi die provinsiale goewerment omvêr en neem die regerings-geboue saam met die Winterpaleis in St Petersburg in.  So gebeur dit ook in Moskou.  Die Sowjet Unie word onder aanvuring van Lenin gestig.  ’n Stelsel van ’n kommunisties-sosialistiese mark-sisteem word landsbeleid.

Lenin vuur die Russe aan tot revolusie

In 1924 sterf Lenin aan beroerte en Joseph Stalin volg hom op.


Joseph Stalin     1878 – 1953

Stalin is gebore in 1879 in Georgia.  Hy voer ’n stelsel van kollektiewe landbou in.  Boere in die steek van die Don-rivier se graan word vir staatsgebruik opgeëis.  Gevolglik sterf baie van die boere en burgers van die omgewing van honger.

Sedert 1928 word plase en industrieë genasionaliseer.  Boere wat in verset kom word eenvoudig doodgemaak, of na Siberië gestuur.

Gedurende 1936 tot 1938 word ’n sameswering teen Stalin ontdek.  Talle word ter dood veroordeel en andere tot lang gevangenisstraf veroordeel.

In hierdie tyd is daar blykbaar 4 belangrike poste in die Russiese politieke stelsel:  Die President, die Eerste Minister, die Eerste Sekretaris van die Kommunistiese Party, en die Hoof aan die KGB.  Hierdie 4 poste word so wisselend beklee deur bekende hooggeplaastes in die Russiese politiek dat dit vir my moeilik is om volledig boek te hou en van mekaar te onderskei.

Stalin sterf in 1953 en word langs Lenin begrawe.  Hy word opgevolg deur Georgi Molenkov as Eerste Minister.  Hy word in 1958 opgevolg deur Nikita Khrushchev.  Hy is ook die Eerste Sekretaris van die Sentrale Komitee van die Kommunistiese Party.

In 1964 word Khrushchev vervang as Eerste Sekretaris van die Kommunistiese Party deur Leoned BrezhnevAleksey Kosygin word die Eerste Minister.  Leoned Brezhnev is ook die hoof van die Politburo van 1964 tot sy dood in 1982.  In 1977 is Brezhnev ook verkies tot President onder die nuwe grondwet.

In 1980 is Kosygin as Eerste Minister vervang deur Nicolay TikonovKosygin sterf in dieselfde jaar.

In 1982 sterf Brezhnev en word vervang deur die KGB-hoof, Yuri Andropov.

Andropov sterf in 1984 en word as President vervang deur Konstantin Cherenkov.  Cherenkov sterf net die volgende jaar en word opgevolg deur Mikhail Gorbachev, Algemene Sekretaris van die Kommunistiese Party.   Abdrey Gromyko word die President.

Gorbachev begin in 1985 met ’n anti-alkohol veldtog.  Hy promoveer die beginsel van openheid; die sogenaamde Glasnost; en ook die beginsel van herstrukturering, die sogenaamde Perestroika.  Hierdie prosesse behels ingrypende politieke en ekonomiese hervorminge.

In 1986 ontplof die kernkragstasie by Chernobyl.  Die gevolg die radio-aktiewe besmetting in die Ukraine, Belarus en verder.

In 1987 teken Gorbachev ’n ooreenkoms met die VSA oor die vernietiging van kernwapens.  In 1991 tree hy uit.

In 1987 word Boris Yeltsin afgedank as hoof van die Moskouse Party weens sy kritiek op die stadige beweging van die hervorming.

In 1988 vervang Gorbachev vir Gromyko as president van die Soviet-Unie.  In ’n spesiale Konferensie van die Kommunistiese Party word besluit om private sektor weer toe te laat.

In die Russiese satelliet-state, Georgië, Lithuania begin die eerste tekens van openlike verset teen die Kommunistiese oorheersing in 1989.



Gorbachev 1990 – 1991


In September 1991 stem die parlement vir die opheffing van die Soviet-Unie.  In1991 bedank Gorbachev as president van die Soviet-Unie.  Die onafhanklikheid van al die Soviet satelliet-Republieke word erken.

In 1991 word Boris Yeltsin verkies as eerste president van die Russiese Soviet Federale Sosialistiese Republiek.  Hy verlaat die Soviet Kommunistiese Party.  In 1991 verban Yeltsin die Kommunistiese Party en neem sy bates in beslag.  Yeltsin erken ook die onafhanklikheid van die Baltiese Republieke.  Ander state soos die Ukraïne kry ook hul onafhanklikheid.


Boris Yeltsin 1991 - 1996

So eindig die Kommunistiese era in Rusland

GESKIEDENIS NÁ KOMMUNISME

Sedert die vroeë geskiedenis van Rusland is die land regeer deur ’n monargie.  In 1533 verklaar Ivan IV die Land as ’n Tsaardom.  Die tsaardom word in 1918 vervang deur die Russian Soviet Federative Socialist Republic.  In 1922 word Rusland die kommunistiese Soviet Union (1922 tot 1991) en sedert 1991 verander die politieke stelsel na die “Russian Federation”.

Ná die ontbinding van die Soviet Unie op 26 Desember 1991 het die Russiese Federasie ontstaan.  Al die Russiese Republieke binne die Soviet-Unie het hul onafhanklikheid gekry.

Rusland staan nou voor die groot uitdaging om die land om te keer vanaf ’n kommunisties-sosialistiese mark-sisteem, na ’n vryemark-ekonomie.  Dit sou die wêreld se grootste staatsbeheerde ommekeer in markgeoriënteerde ekonomie wees.  Die beginsels wat hulle toepas is:  Liberaliseer, Stabiliseer en Privatiseer.  Dit is genoem die “Skok-terapie.”

Hierdie ommekeer in Rusland het ongelooflike eise aan die land gestel.  Alle artikels word losgemaak van die gereguleerde pryse.  Pryse van goedere dobber rond totdat dit ’n meer stabiele waarde aanneem.

Inflasie skiet die hoogte in en daar bestaan groot tekort aan goedere.  Mense was daaraan gewoond dat die sosialistiese staat voorsien en nou moet hulle vir hulself sorg.  Hulle moet hul eie salaris verdien, of ’n eie winsgewende besigheid begin.  Hulle weet nie hoe om met geld te werk nie en is nie gemotiveerd in hul werk nie.  Mense het hul lewe lank gewerk sonder om ’n pensioen op te bou.  Die Russiese bevolking het ’n geweldige brug om oor te steek.

Produktiwiteit, effektiwiteit en beplanning is dinge wat nie in die mense se koppe en besigheidsingesteldheid bestaan het nie

Nog ’n probleem is dat ongeveer 1 uit elke 5 mense in die wapenfabrieke gewerk om die Russies Koue Oorlog te bemagtig.  Nou moet hierdie fabrieke omgeswaai word om in die normale industrie ’n plek in te neem.  Werkloosheid skiet hiermee die hoogte in.

Die sosialistiese maatskaplike sorg en pensioene stort nou ook in duie en talle ouer mense en afgetredenes was afhanklik van staatspensioene wat nou nie meer bestaan nie, of nou opnuut gevestig moet word.

Die gevolg van al hierdie dinge is dat die Russiese ekonomie in die middel 90er jare in ’n depressie verval.  Mense se algemene lewensverwagting daal met ongeveer 5 jaar.  Die algemene gesondheid van die mense verswak en talle siektes kom algemeen voor.

Kommunisme het die land so arm agtergelaat dat die lewe vir baie mense aaklig is.  In Moldawië beteken die naam van die dorp, Straseni, “vreeslik” of “angswekkend”.  Baie mense het nie geleer om met geld te werk en besigheid te doen nie.  Hulle het ook nie aan pensioenfondse behoort nie en ontvang nou slegs ’n karige staatspensioen.

Die meeste van die bevolking het koepons ontvang vir publieke vervoer en om kos mee te koop.  Staatsbehuising is voorsien in die vorm van 2 slaapkamer-woonstelle met gemeenskaplike kombuis en badkamer-geriewe met die bure.  Die beginsel is gebruik dat alle mense dieselfde en almal dieselfde behandel word; behalwe sommige, volgens George Orwell se teorie!  Talle nuwe woonstelblokke is in die tussentyd gebou en word steeds gebou om hierdie stelsel te vervang.  Min kan dit egter bekostig.  Sedert 1989 moes hulle hul finansiële posisie van vooraf bou.

Woonstelle het in die kommunistiese tyd nie oor nie oor motorhuise beskik nie en mense is aangewese op massas motorhuise wat in die buitewyke van die stad gebou is.  Hulle reis dan naweke per bus of moltrein daarheen om die motor bv. vir die naweek te gebruik om na die platteland te ry.  In die week gebruik hulle slegs publieke vervoer.

Ná die val van kommunisme en eventueel sosialisme, ontwaak daar ’n nuwe mark-ekonomie in Rusland.  Die ekonomie ontpop in handel , dienste, argitektuur en die leefstyl van die westerse wêreld.

Op die politieke front het dit ewe stormagtig daaraan toe gegaan.  Ek haal aan uit die Wikipedia Encyclopedia wat onder andere gevind kan word op Google onder die soekwoorde soos “Russia after communism”.

“Yeltsin, who represented a course of radical privatization, was opposed by the parliament. Confronted with opposition to the presidential power of decree and threatened with impeachment, he "dissolved" the parliament on September 21, in contravention of the existing constitution, and ordered new elections and a referendum on a new constitution. The parliament then declared Yeltsin deposed and appointed Aleksandr Rutskoy acting president on September 22. Tensions built quickly, and matters came to a head after street riots on October 2–October 3. On October 4, Yeltsin ordered Special Forces and elite army units to storm the parliament building, the "White House" as it is called. With tanks thrown against the small-arms fire of the parliamentary defenders, the outcome was not in doubt. Rutskoy, Ruslan Khasbulatov, and the other parliamentary supporters surrendered and were immediately arrested and jailed. The official count was 187 dead, 437 wounded (with several men killed and wounded on the presidential side).”

Die oorgang van kommunisme na ’n vrye-markstelsel het dus maar stormagtig verloop.

Daar ontstaan verskeie politieke partye   Ses partye neem aan die eerste verkiesing in 1996 deel.  Die verkiesing word gehou op die styl van die verkiesings in die VSA.  Yeltsin kry gedurende die verkiesingstryd ’n ernstige hartaanval en moet hom van publieke verskynings onttrek.  Nogtans wen hy albei rondtes van die verkiesing en kry in die eindrondte ’n meerderheid van 54%.

Yeltsin het, in die lig van sy verswakkende gesondheid, voorsien dat Poetin hom sal opvolg.  Dit gebeur dan ook aan die einde van 1999 toteYeltsin bedank.  Poetin wen inderdaad ook die verkiesing 3 maande later.

Vladimir Poetin 2000 – 2008  en weer vanaf 2012

Die ekonomie het sedert die eerste verkiesing in 1996 fenomenaal verbeter.

Poetin was die president vanaf 2000 tot 2008.  Hy word opgevolg in deur Dmitry Medvedev in 2008 tot 2011.  Hierna word Poetin weer president tot op hede.

Die voortreflike regeringstydperk van Poetin het ’n vreemde wending geneem toe hy in 2014 ’n poging aanwend om Ukraïne weer by Rusland in te lyf.

Politieke kommentators meen dat Rusland werklik in die geskiedenis terugkrabbel om van die vrygeworde republieke weer terug te neem, om sodoende vir Rusland weer die moondheid te maak wat dit was.


Rusland bly ’n land vol misterie.